In meeste ooreenkomste vir die verkoop van onroerende eiendom, soos `n huis, bestaan die bekende “voetstoots” klousule. Die term “voetstoots” beteken eenvoudig ‘soos dit staan’ wat impliseer dat die koper die eiendom tesame met enige gebreke koop en nie die verkoper aanspreeklik kan hou daarvoor nie. Eenvoudig gestel, wat jy sien is wat jy kry en dit sluit ook in dít wat jy nie kan sien nie.
Die nuwe Verbruikersbeskermingswet (“VBW”) bepaal dat verbruikers die reg het om goedere vry van gebreke te ontvang en indien die ooreenkoms onderhewig is aan die VBW, kan die verkoper nie op `n “voetstoots” klousule steun om aanspreeklikheid te vermy vir einge gebreke aan die eiendom nie, selfs daardie gebreke waarvan die verkoper nie bewus was nie.
Is dit rede vir kopers om te juig en verkopers om te hardloop? Nie noodwendig nie… Die VBW is slegs van toepassing op transaksies wat in die gewone verloop van die verkoper se besigheid gesluit word, en sluit die VBW verder ook regsentiteite met `n jaarlikse omset van meer as R2 miljoen uit onder die definisie van `n “verbruiker”. Dus val nie alle verkoopsooreenkomste onder die VBW nie en geld die beskerming aan kopers teen gebreke ook nie outomaties nie.
Indien die koper `n verbruiker is soos gedefinieer in terme van die VBW en `n huis koop van `n verkoper wat byvoorbeeld `n ontwikkelaar, bouer, spekuleerder of `n institusionele belegger met `n eiendomsportefeulje is, sal die verkoper nie gebreke aan die eiendom kan versteek deur die gebruik van `n “voetstoots” klousule nie aangesien die verkoper optree in die gewone verloop en omvang van sy besigheid as `n diensverskaffer of `n verskaffer soos gedefinieer in terme van die VBW. In kort, die verkoopstransaksie sal onderhewig wees aan die VBW wat beteken die koper/verbruiker sal beskerm word van enige bepalings van `n “voetstoots” klousule en die verkoper kan aanspreeklik gehou word vir gebreke aan die eiendom wat na die verkoop ontdek word.
Andersyds, waar die verkoper `n ooreenkoms aangaan vir die eenmalige verkoop van sy eiendom, kwalifiseer hy nie as `n “diensverskaffer of verskaffer” in terme van die VBW nie, en sal die verkoop nie onderhewig wees aan die bepalings van die VBW nie en sal `n “voetstoots” klousule wel afdwingbaar wees. Dit sal dikwels die geval wees waar individue eiendom koop en verkoop, ten spyte van die betrokkenheid van `n eiendomsagent wie se optrede deur die VBW gereguleer word.
Verkopers moet egter daarop let dat die insluiting van `n geldige “voetstoots” klousule nie noodwendig `n algehele vrywaring daarstel nie aangesien daar steeds verwere beskikbaar is wat `n koper moontlik kan opper en kan voorsien van `n uitkoms in die geval waar gebreke ontdek word nadat die koper besit geneem het van die eiendom en sodoende die koper in staat stel om die verkoopsooreenkoms te kanselleer of `n verlaging in die koopprys te eis.
Verkopers moet versigtig wees met die insluiting van “voetstoots” klousules in ‘n ooreenkoms vir die verkoop van eiendom en word aanbeveel om regsadvies in te win om vas te stel of hierdie bepalings afdwingbaar sal wees aldan nie. Eweneens, moet kopers op die uitkyk wees vir klousules wat die aanspreeklikheid van die verkoper beperk en sal dit raadsaam wees om ook regsadvies hieroor in te win alvorens ‘n verkoopsooreenkoms gesluit word.